Main Article Content

Ses van die een en ‘n halfdosyn van die ander?


T van Dyk
M Taljard

Abstract

Die sentrum vir Akademiese en Professionele Taalpraktyk en die universiteitsbestuur van die Noordwes- Universiteit se Potchefstroomkampus ontvang gereeld navrae van studente en ouers oor die verpligte module Akademiese Geletterdheid (AGLA121) wat deur sommige leerders en ouers as ʼn duplisering van matriek Huistaal beskou word. Daar word aangevoer dat dié kursus ʼn negatiewe impak het op leerders se reeds beperkte studietyd. Daarom word die versoek dikwels gerig dat leerders wat A’s of B’s vir Afrikaans of Engels Huistaal in matriek gekry het, van die verpligte Toets van Akademiese Geletterdheidsvlakke (TAG), of die Engelse ekwivalent daarvan: die Test of Academic Literacy Levels (TALL), en AGLA121 vrygestel behoort te word. Die doel van hierdie artikel is om te bepaal of bogenoemde persepsie op feite gebaseer is en of die Noordwes-Universiteit (NWU) se Akademiese Geletterdheidskursus inderdaad slegs ʼn taalkursus is wat oorvleuel met dit wat reeds op skool onderrig is. Die artikel is hoofsaaklik konseptueel van aard. ʼn Ontleding word gemaak van die Curriculum and Assessment Policy Statement (CAPS) Graad 10-12, die konstruk van TAG wat akademiese geletterdheidsvlakke toets en die AGLA121-kursusinhoud om te bepaal in welke mate die inhoude van die matriek Huistaalsillabus ooreenstem met die konstruk van TAG en die kursusinhoude van AGLA121. Uit die studie behoort dit duidelik te wees of daar grootskaalse oorvleueling tussen CAPS aan die een kant en TAG en die AGLA121-module aan die ander kant is en of ʼn module in Akademiese Geletterdheid noodsaaklik is vir alle leerders op eerstejaarsvlak, omdat dit fokus op aspekte wat nie deur die skoolsillabus gedek word nie.

Sleutelwoorde: akademiese geletterdheid, taalonderrig, huistaal, konstruk, universiteitskurrikulum, skoolsillabus, CAPS


Journal Identifiers


eISSN: 2958-9320
print ISSN: 0259-9570