Main Article Content

Psychological meaning of the living room: a multidimensional attitudinal analysis


EL Kempen

Abstract

Mense se ervaring van 'n plek, soos 'n woonkamer, is nog nie ondersoek met betrekking tot die sin wat mense van so 'n gedekoreerde vertrek maak of die betekenis wat hierdie gedekoreerde vertrek het nie. Een wyse om die betekenis van die voorkoms van 'n gedekoreerde vertrek soos die woonkamer te bepaal, is om 'n persoon se houding teenoor die gedekoreerde
voorkoms van die plek te bepaal (Hanyu, 1997). Volgens Canter en Thorne (1972) is houdings sensitiewe sielkundige prosesse waarmee betekenis bepaal kan word. In besonder het Canter
en Thorne (1972) en Devlin en Nasar (1989) bewys gelewer dat die betekenis van plekke (soos 'n woonkamer) deur mense se beoordelings van die voorkoms van 'n plek beïnvloed word. Daar word aan die hand gedoen dat dit moontlik is om die houding
van mense teenoor 'n gedekoreerde vertrek te bepaal. Die doel van hierdie studie is daarom om die betekenis van die gedekoreede woonkamer van nuwe huiseienaars te bepaal deur die houding teenoor die gedekoreerde woonkamer te ondersoek.
Die studie gebruik die voorkoms van 'n gedekoreerde woonkamer as stimulus waarmee mense se houdings teenoor hulle eie persoonlik gedekoreerde woonkamer bepaal kan word, aangesien die voorkoms van die woonkamer gereeld gedekoreer
en gemodifiseer word (Caborn, 2001). Dit word aanvaar dat die nuut veranderde voorkoms betekenisvol is, wat dan die houding teenoor die gedekoreerde voorkoms van die kamer bepaal.
'n Konseptuele raamwerk, die evaluasie-responsmodel (ERM), wat deur Eagly en Chaiken (1993:10) voorgestel word, bied 'n praktiese benadering waarmee die betekenis van die gedekoreerde woonkamer bestudeer en geïnterpreteer kan word, omdat hierdie model 'n responsbenadering is waarmee
mense se houding bepaal kan word. Eagly en Chaiken (1993:4) stel voor dat die belangrikheid van die evaluasie-responsmodel op die werk van Osgood et al (1957:1) gegrond is. Osgood et al
(1957:1) beweer dat 'n groot deel van die betekenis wat mense aan voorwerpe, plekke en ander entiteite toeken, evaluering behels. Daarom bou ERM op die feit dat evaluasie 'n betekenisvolle rol speel in die wyse waarop mense sin maak van die ervaring van plekke en dus ook wat hulle ervaring van die
gedekoreerde voorkoms van die woonkamer is. Die studie het ook ten doel om die ERM toe te pas op die gekonstrueerde omgewing, soos 'n woonkamer, om 'n beter begrip te vorm van die houdingsprosesse.

Journal Identifiers


eISSN: 0378-5254