Main Article Content

Kontekstuele bepalers by die beplanning van skoolwoordeboeke


HL Beyer

Abstract

Die doel van hierdie artikel is om tot die metaleksikografiese gesprek oor skoolwoordeboeke as 'n tipe pedagogiese woordeboek by te dra. Die fokus is op kontekstuele bepalers wat by die beplanning van skoolwoordeboeke verreken behoort te word: Binne die konteks van 'n veeltalige Namibië word enkele onderwyskundige sisteme verken wat 'n impak op die ontwerp van gedrukte skoolwoordeboeke vir die sekondêre skoolfase kan hê, naamlik skoolkurrikula, die nasionale taalbeleid vir skole en die beleid van leerdergerigte onderwys. Hierdie artikel voer ook aan dat die voor die hand liggende teikengebruiker van 'n skoolwoordeboek, naamlik die leerder, nie die enigste teikengebruiker is nie: Die onderwyser word as medeteikengebruiker gestel wanneer dit by die gebruik van woordeboeke in die onderrigleersituasie kom. Verskillende tipes gevalle van woordeboekgebruik in die mikrokonteks van die onderrigleersituasie word onderskei, naamlik woordeboekonderrig, woordeboekgeïntegreerde taalonderrig en woordeboekgeondersteunde taalonderrig. Hierdie tipes gebruik behoort komponente van 'n woordeboekpedagogie te wees, wat uiteindelik behoort te lei tot outonome woordeboekgebruik en die gepaardgaande vestiging van 'n individuele woordeboekkultuur by die leerder. Die leksikograaf moet al hierdie aspekte inreken wanneer 'n skoolwoordeboek beplan word ten einde die nodige leksikografiese vernuwing in te voer. Enkele voorstelle vir sodanige vernuwings en vir verdere navorsing word ten slotte aangebied.

Sleutelwoorde: Gebruikersgerigte Leksikografie, Konteks, Leerder, Leerdergerigte Onderwys, Leerwoordeboek, Leksikograaf, Metaleksikografie, Naslaanwoordeboek, Onderwyser, Pedagogiese Woordeboek, Sisteem, Skoolwoordeboek, Taalbeleid, Teikengebruiker, Woordeboekgebruik, Woordeboekgeïntegreerde Taalonderrig, Woordeboekondersteunde Taalonderrig, Woordeboekonderrig, Woordeboekpedagogie

Journal Identifiers


eISSN: 2224-0039
print ISSN: 1684-4904