Main Article Content

Die verifiëring, verfyning en toepassing van leksikografiese liniale vir Afrikaans


DJ Prinsloo

Abstract

Leksikografiese liniale vir Afrikaans en die Afrikatale is 'n dekade oud en word algemeen gebruik in die samestelling van woordeboeke. Die samestellers het dit tot dusver nie nodig geag om hierdie liniale te verifieer of te verfyn nie. Kritiek is egter uitgespreek op die samestelling van die Afrikaanse Liniaal en dit word in hierdie artikel opgevolg deur 'n poging tot verifiëring van die bestaande liniaal asook 'n herberekening of verfyning van die Afrikaanse Liniaal. Vir die verifiëring word 'n sogenaamde stresfaktor as die basiese benadering gebruik. Dertien liniale word bereken deur middel van 13 subkorpusse van Afrikaans wat doelbewus só saamgestel is dat dit die mees ongunstige toestande vir die bestaande liniaal skep ten einde te bepaal tot watter mate sodanige liniale afwyk van die Afrikaanse Liniaal. Verfyning van die Afrikaanse Liniaal word gedoen deur die gemiddelde van vyf liniale te neem wat gebaseer is op dié tipes tekskategorieë wat internasionaal in sogenaamde gebalanseerde en verteenwoordigende korpusontwerpe voorgehou word. Vir dié doel word korpusse saamgestel van koeranttekste, kreatiewe skryfwerk, religieuse tekste en sowel formele as informele taalgebruik. Die gemiddelde waardes van die Afrikaanse Liniaal en die verfynde liniaal word dan as 'n nuwe sogenaamde 2010 Liniaal vir Afrikaans voorgehou. Ten slotte word die onlangs voltooide dele XII en XIII van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal kortliks met die Afrikaanse Liniaal gemeet.

Sleutelwoorde: Leksikografie, Woordeboeke, Alfabetiese Kategorieë, Leksikografiese Liniaal, Balans, Korpus, Korpusdata, Oorbewerking, Onderbewerking, Korpusontwerp

Journal Identifiers


eISSN: 2224-0039
print ISSN: 1684-4904