Woordeboeke en Dowe gebruikers: huidige probleme en die behoefte aan beter oplossings*

  • HF Blair

Abstract

Gebaretaalleksikografie is 'n afdeling van die leksikografie wat tot dusver 'n grootliks vae, onbelangrike area was. Die ontwikkeling van gebaretaalleksikografie was in die verlede onderhewig aan verskillende vooroordele en beperkinge. Dit was dikwels nie nodig geag om 'n tweetalige woordeboek saam te stel waarin dit ook moontlik is om 'n gebaar op te soek nie aangesien tweetalige gebaretaalwoordeboeke grotendeels gemik was op horende persone wat die taal wou of moes leer. Daarby was dit baie moeilik vanweë die aard van gedruk te woordeboeke en die gebrek aan 'n ortografiese vorm van gebaretaal om gebare op 'n manier voor te stel én te rangskik sodat hulle opgesoek kan word sonder om van 'n geskrewe soekterm gebruik te maak. Daar is wel notasiesisteme ontwikkel in 'n poging om hierdie probleem te omseil, maar hierdie sisteme het nooit by gewone gebruikers wyd byval gevind nie. Die ontwikkeling van elektroniese gebaretaalwoordeboeke het egter gesorg vir 'n revolusie in gebaretaalleksikografie. Dit is nie meer ongewoon om elektroniese gebaretaalwoordeboeke te vind waarin nie net 'n woord nie, maar ook 'n gebaar soekbaar is, gewoonlik volgens een of meer van die gebaar se parameters, soos handvorm. Sulke woordeboeke maak dit moontlik vir 'n Dowe gebruiker om direkte toegang tot sy of haar eerste taal (gebaretaal) te bekom sonder enige kennis van die tweede taal (die geskrewe taal). Die artikel verwys ook na 'n nuutvoorgestelde model wat dit vir baie jong Dowe gebruikers moontlik maak om ook via konsep na gebaar of woord te soek.

Sleutelwoorde: gebaretaal, leksikografie, woordeboek, gebareparameters, gebarenotasie, elektroniese woordeboeke, dowe teikengebruikers, geletterdheid, gebruikersituasie, woordeboekkultuur

Published
2014-01-16
Section
Articles

Journal Identifiers


eISSN: 2224-0039
print ISSN: 1684-4904