Main Article Content

Die totstandkoming en bedrywighede van die ASAF-koor in Johannesburg onder leiding van J.B.Z. Keet (1920-1963)


H Potgieter
G Jordaan
J Pretorius

Abstract

Die Christelike Sangvereniging Asaf, of die ASAF-koor, soos hierdie beweging algemeen bekendgestaan het, het op 5 Julie 1920 in Melville, Johannesburg, tot stand gekom. Afrikaners wou die Afrikaanse taal en die kunste in die algemeen, maar veral koorsang uitbou. Dit het bygedra tot die stigting van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (1929-), die Johannesburgse Kunsvereniging, die Johannesburgse Afrikaanse Skrywerskring en ’n sterker Afrikaanse pers in die Goudstad. Mnr J.B.Z. Keet was die koordirigent vir byna 42 jaar en hy was oortuig van die positiewe invloed wat koorsang op sowel sangers as luisteraars kon uitoefen. Die koor het gereeld aan kunswedstryde, eredienste en Afrikaanse kultuur- en volksfeeste deelgeneem. Van 1934 af het die koor ook met die SAUK saamgewerk, dikwels met begeleiding deur die SAUK-simfonieorkes. Komposisies soos Elia van Mendelssohn, die Requiems van Mozart en Verdi, Beethoven se Negende Simfonie, Bach se Mattheuspassie en Händel se Messias was deel van hulle repertorium. Koorsang is ook deur Keet in ander sentrums aan die Witwatersrand aangemoedig. Danie van den Heever het Keet in 1963 as dirigent opgevolg.

Sleutelterme: Afrikanerkultuur, Afrikaner-identiteit, ASAF-koor, Christelike
Sangvereniging Asaf, J.B.Z. Keet.


Journal Identifiers


eISSN: 1011-3053