Main Article Content

’n Behoefte-analise met die oog op die ontwerp van ’n Taal vir Spesifieke Doeleindes (TSD)-kursus vir leerderonderwysers met Afrikaans as tweede taal


A Greyling
E Adendorff

Abstract

Die implementering van ’n veeltaligheidsbeleid in Suid-Afrika vereis dat die onderrig en leer van Afrikaans as tweede taal, met spesifieke fokus op die onderrig van Afrikaans vir spesifieke doeleindes aan volwassenes (ook op universiteitsvlak), aandag geniet. Onderwysers en onderwysstudente moet daarop voorberei word om effektief onderrig te kan gee, aangesien daar van leerders verwag word om op ’n akademiese vlak met taal te kan omgaan. Die Nasionale Departement van Onderwys verwag onder meer van nuutgekwalifiseerde onderwysers om in die algemeen sowel as binne hul spesifieke vakgebiede effektief te kan kommunikeer aangesien onderwysers as tussengangers van leer optree. Die doel van hierdie artikel is om die spesifieke behoeftes van eerstejaar-onderwysstudente met Afrikaans as tweede taal te ondersoek met die doel om ʼn taakgebaseerde Afrikaans vir spesifieke doeleindes-kursus te ontwerp. Sekere faktore moet in ag geneem word by die ontwerp van ’n sillabus, naamlik die kulturele, opvoedkundige en organisatoriese aspekte, die taalaanleerder, die onderwyser en die beskikbaarheid van onderrigmateriaal. ’n Behoefte-analise kan gebruik word om te verseker dat daar aan bogenoemde faktore aandag geskenk word met die ontwerp van ’n sillabus. Nog voordele wat behoefte-analises inhou, is dat onderrigmetodes kan verbeter, onderwysers kan aanpas by die verskillende taalaanleerders in hulle klasse en taalaanleerders deur die leerproses kan lei. Die artikel lewer verslag van ’n ondersoek oor die ontwerp van ’n Afrikaanse spesifiekedoeleindeskursus vir eerstejaar-onderwysstudente. Die spesifieke fokus is op die behoefte-analises wat onderneem is. ’n Reeks metodologiese stappe wat gevolg kan word in ’n behoefte-analise met die oog op kursusontwerp, tesame met die toepassing daarvan, word in die artikel aangebied.

Sleutelwoorde: Taal vir Spesifieke Doeleindes (TSD), behoefte-analise, taakgebaseerde metodologie, Afrikaanse tweedetaalverwerwing


Journal Identifiers


eISSN: 2224-3380