Main Article Content

Awareness and knowledge of phytonutrient food sources and health benefits for functional food application among health food store customers in the Cape Town city bowl


M Braun
I Venter

Abstract

Fitonutriënte speel ‘n belangrike rol in die verwantskap
tussen dieet en die voorkoming van chroniese degeneratiewe siektes. Dié wetenskaplike gegewens bied die voedselindustrie die geleentheid om funksionele voedsels te ontwikkel wat fitonutriënte beklemtoon. Verbruikers wat onbekend met fitonutriënte is, bemoeilik suksesvolle bemarking van sulke
funksionele voedsels omdat dit ‘n verbruiker met kennis en begrip van dieet en gesondheid vereis. Die voedselindustrie behoort sulke voedselontwikkeling te weerhou totdat verbruikers voldoende kennis en begrip van fitonutriënte het vir oorgang van
gewildheid na suksesvolle bemarking in die evolusie
van verbruikersaanvaarding.
Omdat Suid-Afrika ‘n ontluikende mark vir funksionele
voedsels is, het die studie die volgende verken:
1) Bewustheid van die term “fitonutriënte” en spesifieke fitonutriente soos beta-karoteen, isoflavone, fitoestrogene, likopeen, kwersitin, antosianiene, limonoïede en allielsulfiede; 2) Kennis van die voedselbron en die verwante gesondheidsvoordeel
van spesifieke fitonutriënte; en 3) Of die bewustheid
en kennis van die aanbevole daaglikse groente en vrugte inname porsies en hul werklike inname verband hou met die bewustheid van die term “fitonutriënte”. Die opname is gedoen onder verbruikers wat twee gesondheidswinkels in die stadskom van
Kaapstad besoek het. ‘n Onderliggende doel van die studie was om te bevestig of die deelnemers as gesondheidsbewuste verbruikers beskou kon word in die aanname gemaak dat dié groep persone moontlik bekend is met die onderwerp.
Die deelnemers moes ‘n voorafgetoetste self-geadministreerde
vraelys voltooi. Een honderd en twaalf persone, 79,5% van die persone wat uitgenooi is, het deelgeneem.
Sowat ‘n derde van die deelnemers (36,6% en 33%
onderskeidelik) was bewus van die term “fitonutriënte” en die “5-‘n-Dag” konsep. Meer deelnemers het die betekenis van die konsep (21,4%) as fitonutriënte (4,5%) korrek aangedui. Die deelnemers was die meeste bewus van die fitonutrient beta-karoteen (88,4%), terwyl allielsulfiede die minste bekend
was (5,4%). Die deelnemers was meer bekend met die voedselbronne as die gesondheidsvoordele van fitonutriënte. Brokkoli is die voedsel wat deur die meeste van die deelnemers (75,6%) aangedui is as ‘n ryk fitonutrient bron. Meer deelnemers
wat bewus is van die term “fitonutriënte”, kon die daaglikse aantal aanbevole groente porsies korrek aandui (58,5%), as diegene wat dit nie ken nie (40,8%). Dit is nie ten opsigte van die aantal vrugte porsies gevind nie. Meer deelnemers wat
die term “fitonutriënte” ken, eet die aanbevole daaglikse
aantal porsies groente (22%) en vrugte (73,2%) as deelnemers wat onbewus van die term is (9,9% en 60,6% onderskeidelik). Die meerderheid deelnemers wat die term “fitonutriënte” en die
spesifieke fitonutriënte ken gebruik dieetsupplemente.
Hulle kan dus as gesondheidsbewuste verbruikers beskou word.
Omdat die deelnemers wat gesondheidsbewus is, slegs beperkte kennis van sommige van die fitonutriënte en hul voedselbronne en gesondheidsvoordele getoon het, behoort die Suid-Afrikaanse voedselindustrie omsigtig te wees in die ontwikkeling van funksionele voedsels wat fitonutriënte beklemtoon. Die algemene publiek sal waarskynlik minder
bewus en ingelig wees as die deelnemers aan die studie. Aansienlike blootstelling is gevolglik nodig om die belang van fitonutriënte in gesondheid en siekte voorkoming bekend te stel.

Journal Identifiers


eISSN: 0378-5254