Main Article Content

Selfgerigte tekskeuse vir Afrikaans Huistaal in die intermediêre fase met behulp van ʼn leesbaarheidsindeks


Carmen du Plessis
Elize Vos

Abstract

Goedontwikkelde leesvaardighede word vir suksesvolle leer, asook vir volle deelname in die gemeenskap en werksmilieu in die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) onderskryf (DBO, 2011). Ten spyte van die belangrikheid van effektiewe leesvaardighede bly die leesstandaard van intermediêrefaseleerders steeds onrusbarend laag wanneer die uitslae van internasionale leesassesserings in ag geneem word. Uit hierdie resultate word dit duidelik dat leerders nie voldoende leesbegrip het wanneer hulle op die inhoud van 'n leesteks geassesseer word nie. Alhoewel duidelike kriteria vir tekskeuse bestaan, kan die oorsaak van die swak leesbegrip moontlik aan tekskeuse toegeskryf word. Vir hierdie artikel is die leesbaarheidsvlak van voorgeskrewe tekste as moontlike struikelblok ondersoek. Verskeie leesbaarheidsindekse is ondersoek, maar spesifiek dié wat vir Afrikaans Huistaal gebruik kan word om tekskompleksiteit te meet. Die leesbaarheid van tekste in huistaalhandboeke (intermediêre fase) is bereken. Die ondersoek is vanuit die interpretivisme benader en is kwalitatief van aard. Ten eerste is 'n uitgebreide literatuurondersoek na die leessituasie geloods met betrekking tot intermediêrefaseleerders, tekste, kriteria vir tekskeuse, die leesbaarheid van tekste en leesbaarheidsindekse. Ten tweede is die KABV (Afrikaans Huistaal, intermediêre fase) ontleed om vas te stel wat die riglyne vir tekste, tekskeuse en leesbaarheid behels. Laastens is KABV-geakkrediteerde handboeke ontleed om die leesbaarheidsvlakke van enkele tekste daarin te bepaal. Die oorkoepelende temas uit hierdie drie data-insamelingsmetodes is gebruik om moontlike voorstelle vir Afrikaans Huistaal-onderwysers en handboeksamestellers ten opsigte van selfgerigte tekskeuse vir intermediêrefaseleerders met behulp van ’n leesbaarheidsindeks te maak.


Journal Identifiers


eISSN: 2958-9320
print ISSN: 0259-9570