Main Article Content
Community participation in clinical health research - a new research Paradigm
Abstract
Gemeenskapsbetrokkenheid in gesondheid en in navorsing word internasionaal en nasionaal, insluitende Suid-Afrika, in verskeie verklarings van voorneme gereflekteer. Navorsers het nie meer die reg om 'n monopolie oor die uitvoering en verduideliking van hul navorsing te handhaaf nie, maar het 'n plig om die deelnemers aan navorsing en die gemeenskap te bemagtig om hul eie rol in navorsing te verstaan ten einde 'n gelykwaardige deelnemer in die navorsingsproses te wees. Te midde van 'n ontwikkelende Suid-Afrikaanse demokrasie, is daar 'n verskuiwing vanaf paternalisme na die erkenning van die reg tot inligting en outonomie. Binne hierdie raamwerk word die dag-tot-dag realiteite van navorsing ook gekonfronteer. Verteenwoordigers van relevante plaaslike gemeenskappe behoort volle deelnemers in die beplanning, implementering en monitering van navorsing in gesondheidsorg te wees. Die doel met hierdie artikel is om die verskynsel van gemeenskapsbetrokkenheid in kliniese navorsing te verken en te beskryf, insluitende die kompleksiteite en uitdagings daaraan verbonde en die paradigmaskuif wat benodig word om die gaping tussen die teorie en praktyk, navorsing en gemeenskap in kliniese navorsing aan te spreek. 'n Nuwe paradigma om die beginsels van gemeenskapsbetrokkenheid in kliniese navorsing te akkomodeer, word beskryf. Daar word aanbeveel dat 'n persepsie-opname uitgevoer word om die rolspelers se begrip en verwagtinge ten opsigte van gemeenskapsdeelname in kliniese navorsing te ondersoek en om 'n model vir gemeenskaps-deelname in kliniese navorsing te ontwikkel.
Health SA Gesondheid Vol.6(4) 2003: 3-13