Main Article Content

Aanbevelings vir die keuring en voorskrif van gedigte vir graad 12-Afrikaans Huistaal


Abstract

Poësie-onderrig is belangrik vir taalaanleer, asook vir die ontwikkeling van leerders se emosionele intelligensie, verbeelding en verdraagsaamheid jeens diversiteit. Wanneer gedigte in ʼn nuwe tydsgees voorgeskryf word, sonder om gepaste kriteria en die mening van gesaghebbendes in ag te neem, word meer skade as goed aangerig. Onlangs het uiteenlopende menings oor die nuutvoorgeskrewe gedigte van graad 12-Afrikaans Huistaal weer die soeklig op die kriteria vir die keuse van voorgeskrewe gedigte geplaas (Steyn, 2023: 8). Die keuringsproses behoort kriteria rakende die diversiteit van Afrikaans, die leefwêreld van die graad 12-leerder, en riglyne van die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV), Afrikaans Huistaal, Verdere Onderwys- en Opleidingsfase (VOO) in te sluit (Departement van Basiese Onderwys [DBO], 2011). Ons bepleit egter selfgerigtheid van taalonderwysers in die keuringsproses, aangesien hulle die rolspelers is wat die leerders die beste ken. Hierdie oorsigartikel word vanuit die interpretivistiese navorsingsparadigma geskryf en is kwalitatief van aard, aangesien data by wyse van verskillende kwalitatiewe insamelingsmetodes verkry is. Ter aansluiting by die literatuurondersoek is ʼn dokumentontleding van die KABV (Afrikaans Huistaal, VOO-fase) én ʼn opsommende teksontleding van die jongste voorgeskrewe gedigte onderneem. Die data word narratief ontleed. Die primêre doel is om werkswyses voor te stel aan belanghebbendes (keurpanele, Afrikaans Huistaalonderwysers, voorgraadse onderwysstudente en kurrikulum-beplanners) om gepaste gedigte vir graad 12-Afrikaans Huistaalleerders op ʼn selfgerigte wyse as voorgeskrewe tekste te keur.


Journal Identifiers


eISSN: 2958-9320
print ISSN: 0259-9570