Main Article Content

Vertaling en/as abjeksie: Antjie Krog


F Vosloo

Abstract

Internasionaal bekroonde skrywer en digter Antjie Krog, skryf in Afrikaans, haar moedertaal, vertaal ander se werk (Nederlands en Vlaams) in Afrikaans, en vertaal haar eie werk (saam met ander vertalers) in Engels. As tweetalige en veeltalige skrywer werk Krog voortdurend op ’n dialogiese en heteroglossiese vlak binne ’n komplekse sosiokulturele en sosiolinguistiese omgewing. Met die skep van tekste wat twee- of veelstemmig is, stel Krog veranderende betekenisse en ontvanklikheid vir verskillende perspektiewe aan die leser bekend – ’n proses wat dikwels haarself, haar taal en ander se taal ontheem of vervreem. Hierdie artikel ondersoek die abjekte soos dit in Krog se teenwoordigheid as selfvertaler en vertaalde skrywer in die Suid- Afrikaanse literêre veld manifesteer. Die abjekte – dit wat onvanpas en vuil is en die geordende sisteem bedreig – is die duidelikste teenwoordig in ons (as subjektiewe persone) reaksies op die fisiese liggaam en die moontlikhede van kontaminasie wat dit inhou. Die skryfproses en die inhoud daarvan, kan en behoort op soortgelyke wyse as ontwrigtende handelinge te funksioneer. Die konsep van die materialiteit van die teks is spesifiek relevant tot Krog se eie poësie, wat ’n abjekte, beliggaamde landskap voorstel. As skrywer bewoon (inhabit) Krog die teks – sy wórd die ritmes en artikulasies van die teks. Binne kulturele vertaling, vorm abjeksie en die mineuraanwending van taal ’n integrale deel van die konstruksie van identiteit en subjektiwiteit. Hierdie abjeksie funksioneer op twee vlakke: aan die een kant is Krog se teenwoordigheid binne die Engelse literêre veld ambivalent, onstabiel en uitdagend van ’n skoon, geordende sisteem; aan die ander kant ondermyn sy die majeurtaal deur haarself met subversiwiteit te vertaal. Die doel van die artikel is om die konsepte abjeksie en mineurtaal te versoen in ’n poging om ’n vars perspektief te gee op die persepsie en resepsie van Krog se werk in die Suid-Afrikaanse literêre veld.

Sleutelwoorde: abjeksie, literêre vertaling, vertaling en hibriditeit, Antjie Krog, mineurletterkunde, Kristeva, Deleuze en Guattari


Journal Identifiers


eISSN: 2224-3380