Main Article Content

Die ontwerp van ʼn Afrikaanse taakgebaseerde rekenaaronderrigprogram vir internasionale studente aan die Universiteit Stellenbosch


V Beukes
E Adendorff

Abstract


Die navorsing waaroor in hierdie artikel verslag gelewer word, is spesifiek gerig op nie- Afrikaanssprekende internasionale studente aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die doel van die breë navorsing wat onderneem word en waarvan in dié artikel slegs gedeeltelik verslag gelewer word, is om die moontlike ontwerp van ʼn taakgebaseerde rekenaarprogram vir die kursus Beginner Afrikaans Vlak 1 te illustreer. Die navorsing val binne twee breë vakgebiede, waarvan die eerste een die taakgebaseerde benadering tot leer en onderrig is en die tweede een rekenaargesteunde taalonderrig (RGTO). Taakgebaseerde leer en onderrig is ʼn onderrigbenadering waar die fokus van die studente op die bereiking van ʼn doelwit geplaas word. Volgens Duran en Ramaut (2006) en Van Avermaet en Gysen (2006) is die vertrekpunt van enige taakgebaseerde benadering ’n behoefte-analise. Vir hierdie studie het die studente ʼn vraelys voltooi. As deel van die behoefte-analise gebruik die studente, saam met die vraelys, die Europese Referensiekader (ERK) (2001) om hulle taalvaardighede te assesseer. Die studente verskaf ook inligting oor onderwerpe wat hulle graag in die klas behandel wil hê. Nadat die taakgebaseerde benadering bespreek is, word daar op Mayer (2009, 2011) se kognitiewe teorie van multimedialeer gefokus. Dit dien as vertrekpunt vir die tweede vakgebied, naamlik rekenaargesteunde taalonderrig (RGTO) wat verder in hierdie artikel bespreek word. Hierdie teorie verskaf die agtergrond vir enige aktiwiteit wat op die rekenaar ontwerp word. Nadat die kognitiewe teorie van multimedia-leer bespreek is, word daar op vier multimedia-instruksiebeginsels, deur Mayer (2009, 2011) ontwikkel, gefokus, naamlik die oortolligheidseffek, die samehangeffek, die ruimtelike-aangrensingseffek en die verpersoonlikingseffek. Hierdie beginsels word kortliks bespreek, voordat ʼn verbinding tussen die twee vakgebiede gemaak word deur die bevindinge wat sover van studente verkry is, te gebruik en dan prakties te toon hoe een van die instruksiebeginsels moontlik aan die studente voorgestel kan word in die rekenaarprogam.

Sleutelwoorde: taakgebaseerde benadering, behoefte-analise, rekenaargesteunde taalonderrig (RGTO), kognitiewe teorie van multimedia-leer


Journal Identifiers


eISSN: 2224-3380