Main Article Content

Die waarde van tolking vir tersiêre onderrig en leer. ’n Ondersoek na die persepsies van tolkgemedieerde kommunikasie in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch


C Brewis

Abstract

Hierdie artikel is gegrond op ’n Meesterstudie wat die onderwerp was van ’n M-tesis in Tolkstudie. Die studie het spesifiek ’n bydrae gemaak tot die bestaande navorsing in Opvoedkundige tolking. Simultane (gesproke) opvoedkundige tolking het relatief onlangs as aparte subdomein van gemeenskapstolking in Suid-Afrika beslag gevind. Navorsing hier te lande verteenwoordig pionierswerk in hierdie ontluikende studieveld. Een van die belangrikste kwessies waarin beleidsmakers en opvoeders belangstel, is die effektiwiteit van opvoedkundige tolking vir onderrig en leer. Die navorser het ’n ondersoek na hierdie vraagstuk onderneem endie persepsies van dosente, studente en tolke getoets ten einde antwoorde op die volgende twee vrae te vind:

  • Wat is die ervaring van opvoedkundige tolking in klaskamers binne die konteks van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch? en;
  • Wat is die waarde wat opvoedkundige tolking vir onderrig en leer binne hierdie konteks kan inhou?

Die T-opsie geld as die verstektaalopsie binne die Fakulteit Regsgeleerdheid. Die ervaring van tolking in klasse is telkens na aanleiding van die navorsingsvrae vergelyk met studente en dosente se ervaring van die T-opsie ten einde afleidings te maak oor die moontlike waarde van tolking binne hierdie konteks. Die unieke aard en die integrale rol wat taal en taalvaardighede in dié vakdissipline speel, maak hierdie konteks verder uniek en moes in die studie verreken word. Die ondersoek is gedoen met verwysing na kontemporêre idees uit akademiese geletterdheidstudies. Konsepte soos affek, identiteit, toeganklikheid en deelname is verken om uiteindelik die verbande tussen opvoedkundige tolking en onderrig en leer te ondersoek en te beskryf. Die studie is gedoen teen die agtergrond van ’n verkenning van die teorie in Tolkstudie met verwysing na rol, kwaliteit en professionaliteit sowel as resente navorsing uit die veld vangebaretaal.


Die proefneming is in twee modules oor ’n tydperk van vier weke (16 uur) in klasse gedoen met verwysing na drie basiese vrae:

  • Kan tolking in klasse studente help om vakinhoud beter te verstaan?
  • Kan studente hierdeur beter met die klaskamersituasie identifiseer?
  • Word tyd sodoende in die leerproses bespaar?

Deur ’n proses van deelnemende aksienavorsing is data ingewin deur middel van vraelyste, ’n fokusgroepbespreking, onderhoude en waarneming. As navorsingsmetodologie het die navorser van beide kwalitatiewe en kwantitatiewe metodes gebruik gemaak. Die basiese bevindinge was dat akademiese taalvaardighede van studente aansienlik verskil met beduidend groter taalvaardigheidsverskille onder Engelssprekende studente. Daar is ’n beduidende ontevredenheid met die T-opsie onder studente en dosente. Tolking is beduidend positief ervaar onder studente wat probleme met taal in die klaskamer ervaar, omdat dit gelei het tot ’n groter begrip van vakinhoud, die maak van meer omvattende aantekeninge tydens lesings en die feit dat studente tyd bespaar het in die leerproses. Studente voel nou meer tuis in die klaskameropset wat aanduidend was van wat navorsers in akademiese geletterdheidstudies beskryf as die reis van die “periferie” van geletterdheid na die “kern” daarvan. Verder was dit uit die studie duidelik dat tolking optimaal binne ’n eentalige konteks plaasvind en dat gehaltetolking ’n voorvereiste is. Tolke moet verkieslik oor tolkervaring, kennis van klaskamerdiskoers en vakkennis, beskik. Suksesvolle kommunikasie, naamlik om te verstaan en om verstaan te word, bly ’n kernvoorwaarde vir leer.

Sleutelwoorde: tolking, opvoedkundige tolking, klaskamertolking, onderrig en leer, akademiese geletterdheid


Journal Identifiers


eISSN: 2224-3380