Main Article Content

Die bronteksouteur se bydrae tot die produksieproses van literêre vertalings


C-M Spies

Abstract

In hierdie artikel word ʼn empiriese studie onderneem waarin die bydrae van die bronteksouteur in die produksieproses van literêre vertaling bestudeer word. Om hierdie doel te bereik, word drie produksieprosesse van literêre vertalings, To hell with Cronjé (Winterbach 2007b), My name is Vaselinetjie (Von Meck 2009a) en In bushveld and desert: A game ranger’s life (Bakkes 2008) retrospektiewelik bestudeer deur elke proses te herkonstrueer om die veranderinge wat die bronteksouteurs aangebring het, asook hulle korrespondensie met ander produksieagente, bloot te lê. Hiervoor word manuskripte, notas en e-poskorrespondensie wat tydens elke produksieproses geproduseer is, kwalitatief ontleed. Antwoorde op semi-gestruktureerde vraelyste word ook as sekondêre data bestudeer om die produksieagente die geleentheid te bied om oor die produksieproses te reflekteer en aan die navorser dinamika en aangeleenthede wat nie uit die primêre data afgelei kon word nie, te verduidelik. Die ontleding word gedoen teen die agtergrond van relevante sosiologiese, vertaal- en redigeer/revisieteorie, en bevindinge van vorige studies wat in die agtergrondbespreking aangebied word. Uit die analise kan daar gesien word dat alhoewel al die produksieagente ʼn beduidende rol in die produksie van ʼn literêre vertaling speel, wil dit wel voorkom of die bronteksouteur die produksieagent is wat die meeste status/outoriteit in die produksieproses geniet en gevolglik ook die meeste mag het en invloed kan uitoefen. Verder kan daar gesien word dat die betrokkenheid van die bronteksouteur in al drie prosesse voordelig was om inhoudelike foute en verkeerde interpretasies uit te skakel en ander produksieagente se vrae te beantwoord. Daar word egter ook aangedui dat die betrokkenheid van die bronteksouteur in sekere opsigte nadelig vir die produksieproses kan wees, byvoorbeeld wanneer hy/sy die teks tot só ʼn mate oorvertaal dat hy/sy as’t ware die rol van die vertaler oorneem en/of nder produksieagente ondermyn, wat wedywering en ʼn magswanbalans tot gevolg kan hê en die produksieproses kan strem.

Sleutelwoorde: Literêre vertaling, bronteksouteur, produksieproses, sosiologiese enadering tot vertaling, Bourdieu, redigering, revisie


Journal Identifiers


eISSN: 2224-3380